Kaukasus
Die Kaukasus-bergreeks (Abchasies: Кавказ, Kawkas; Armeens: Կովկաս; Azerbeidjans: Qafqaz; Georgies: კავკასიონი, Kawkasioni; Osseties: Кавказ, Kawkas; Persies: رشتهکوه قفقاز; Russies: Кавказ, Kawkas; Turks: Kafkas Dağları) tussen die Swart- en Kaspiese See vorm een van die geografiese grense tussen Europa en Asië. Dit word verdeel in die Groter Kaukasus in die noorde en die Kleiner Kaukasus in die suide, wat deur die Koeravallei van mekaar geskei word. Die Kleiner Kaukasus word in die suide deur die Araksrivier begrens.
Die pieke in sy vergletserde sentrale gedeelte verrys tot 'n hoogte van meer as 5 000 meter, waaronder twee uitgedoofde vulkane, Elbrus (5 642 meter) en Kasbek (5 033 meter). Die risiko van seismiese aktiwiteit is steeds hoog in die gebied.
Die Kaukasus-bergreeks strek oor 'n afstand van 1 100 kilometer en oor vier lande, die Russiese Federasie (met die halfoutonome republieke Dagestan, Ingoesjetië, Tsjetsjnië, Noord-Ossetië-Alanië, Kabardino-Balkarië, Karatsjai-Tsjerkessië en Adigea) in die noorde, Georgië in die weste, en Armenië en Azerbeidjan in die suide. Die hoogste bergrug vorm grotendeels ook die grenslyn tussen Rusland en Georgië en Azerbeidjan, terwyl die kleiner bergrug Georgië van Turkye en Armenië skei.
In klimatiese opsig vorm die Kaukasus 'n oorgangsgebied tussen die gematigde en subtropiese sone wat onder die invloed van die oseaniese Middellandse Seegebied en die uitgestrekte Siberiese vlaktes met hul kontinentale klimaat staan. Die sowat 1 400 Kaukasus-gletsers beslaan 'n totale oppervlak van byna 1 800 km², en die langstes onder hulle strek oor 'n afstand van veertien kilometer. Nog in die Sowjettyd was die bergreeks 'n gewilde ontspannings- en skigebied, alhoewel sy infrastruktuur nie met dié van ander berggebiede in Europa kan meeding nie.
Geen ander streek in Rusland word deur dieselfde etniese veelvuldigheid gekenmerk soos die noordelike Kaukasus nie. Die bergstreek word deur ongeveer vier miljoen mense bewoon wat uit sowat tagtig kleiner en groter etniese groepe bestaan. So word na die Kaukasus dikwels ook as die "Byekorf van volke" of die "Berg van tale" verwys. Die Noord-Kaukasiese volke in Rusland sluit Kabardyne, Balkare, Adigejers, Karatsjaïers, Tsjerkesse, Tsjetsjniërs, Ingoesjete, Noord-Ossetiërs en Dagestaners in. Dikwels vorm enkele duisend mense 'n selfstandige etniese groep met hul eie taal. Suid-Kaukasiese volke sluit Abchasiërs, Armeniërs, Azerbeidjanners, Georgiërs en Ossetiërs in.
In die Kaukasusstreek word ook 'n aantal inheemse tale gebesig, wat veral uit geografiese redes onder die sambreelterm Kaukasiese tale saamgevat word. Die Georgiese taalkundige Arnold Chikobawa het wel 'n Ibero-Kaukasiese taalfamilie voorgestel, alhoewel dit algemeen verwerp is. Hierdie Kaukasiese tale sluit die volgende taalfamilies in:
- Kartweliese of Suid-Kaukasiese tale (waaronder Georgies),
- Noordwes-Kaukasiese of Abchaz-Adigiese tale (waaronder Awaars, Ingoesjeties en Tsjetsjnies),
- Noordoos-Kaukasiese of Nacho-Dagestanse tale (waaronder Abazyns, Abchasies, Adigies en Kabardies).
Die meeste Kaukasiërs is Moslems. Die uitbreiding van radikale Islam in Tsjetsjnië, 'n republiek met groot olieskatte wat na onafhanklikheid strewe, maak van die Kaukasus-streek die Achilleshiel van Rusland. Die Tsjetsjniërs, 'n volk met 'n trotse tradisie van krygers, het die Russiese heerskappy oor hul land nooit aanvaar nie. 'n Halfmiljoen mense is onder Stalin se bewind gedeporteer, terwyl die konflik onder die Poetin-bewind tot 'n volskaalse oorlog geëskaleer het wat al tienduisende menselewens geëis het.
Ander konflikgebiede in die suidelike Kaukausus sluit Abchasië en Suid-Ossetië in Georgië, die Republiek Artsach, wat hom eensydig van Azerbeidjan onafhanklik verklaar het, en Ingoesjetië/Noord-Ossetië in Suid-Rusland in.
Die westelike gedeelte van die Kaukasus-bergreeks is in 1999 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Kaukasus.
- (en) (fr) Amptelike Unesco-bladsy
- (en) "Caucasus". Encyclopædia Britannica. Besoek op 22 Augustus 2020.