Bende van Vier
Bende van Vier | ||
'Gooi beslis die Wang-Zhang-Jiang-Yao-antipartykliek uit!' | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 四人幫 | |
Vereenvoudigde Chinees | 四人帮 | |
Pinyin | Sìrén bāng |
Die Bende van Vier was ’n politieke faksie wat uit vier amptenare van die Kommunistiese Party van China bestaan het. Hulle het bekend geraak tydens die Kulturele Rewolusie van 1966-'76 en is later van ’n reeks aanklagte in verband met verraad aangekla. Die bende se leier was Mao Zedong se laaste vrou, Jiang Qing. Die ander lede was Zhang Chunqiao, Yao Wenyuan en Wang Hongwen.[1]
Die Bende van Vier het die magsorgane van die Kommunistiese Party in die latere stadiums van die Kulturele Rewolusie beheer. Dit was egter onduidelik watter groot besluite van Mao deur die vier uitgevoer is en watter deur die bende self geneem is.
Die bende en die onteerde generaal Lin Biao, wat in 1971 dood is, is gebrandmerk as die twee grootste "teenrewolusiemagte" van die Kulturele Rewolusie en die Chinese regering het hulle amptelik die skuld gegee vir die grootste deel van die sosiale chaos wat in dié 10 jaar van onrus ontstaan het. Hul val op 6 Oktober 1976, net ’n maand ná Mao se dood, het gelei tot groot vierings in Beijing se strate en het die einde ingelui van ’n onstuimige politieke era in China.
Stigting
[wysig | wysig bron]Die groep is gelei deur Jiang Qing en het bestaan uit drie van haar nabye bondgenote, Zhang Chunqiao, Yao Wenyuan en Wang Hongwen. Twee ander mans wat in 1976 reeds dood was, Kang Sheng en Xie Fuzhi, word soms genoem as deel van die "bende". Chen Boda en Mao Yuanxin, van wie laasgenoemde familie van Mao was, is ook beskou as nabye bondgenote.
In die meeste Westerse weergawes van gebeure word gemeen die eintlike leierskap van die Kulturele Rewolusie het uit ’n groter groep bestaan, en lede van die Sentrale Kulturele Rewolusiegroep word dikwels genoem. Die bekendste was Lin Biao, tot met sy beweerde vlug uit China en dood in ’n vliegongeluk in 1971. Chen Boda word dikwels beskou as lid van Lin se faksie eerder as dié van Jiang Qing.[2]
Rol
[wysig | wysig bron]Aan die begin van die Kulturele Rewolusie, op 10 November 1965, het Yao Wenyuan ’n artikel gepubliseer waarin hy die nuwe historiese drama "Hai Rui uit Sy Amp Ontslaan" kritiseer.[1] Hy het gereken dit is ’n aanval op Mao se Groot Sprong Voorwaarts, en dit het daartoe gelei dat Mao ontslae geraak het van maarskalk Peng Dehuai, die minister van verdediging.[3][4] Dié artikel word dikwels geblameer vir die begin van die Kulturele Rewolusie.[5]
Jiang Qing het in dié tydperk rewolusionêre operas op die been gebring en met die Rooi Gardes beraadslaag.[6][7]
Die verwydering van dié groep uit gesagsposisies word soms beskou as die begin van die einde van die Kulturele Rewolusie, wat in 1966 deur Mao begin is as deel van sy magstryd met leiers soos Liu Shaoqi, Deng Xiaoping en Peng Zhen. Mao het sy vrou, Jiang Qing, ’n voormalige rolprentaktrise wat voor 1966 geen openbare politieke rol gespeel het nie, in beheer geplaas van die land se kultuurorganisasie. Zhang, Yao en Wang was partyleiers in Sjanghai wat ’n leidende rol gespeel het om die stad tydens die Kulturele Rewolusie vir Mao te verseker.
Omtrent met die tyd van Lin Biao se dood het die Kulturele Rewolusie momentum begin verloor. Die nuwe aanvoerders van die Volksbevrydingsleër het geëis dat die orde herstel word in die lig van die gevaarlike situasie aan die Chinese grens met die Sowjetunie. Premier Zhou Enlai, wat die rewolusie aanvaar maar nooit heeltemal gesteun het nie, het van sy mag teruggekry en dit gebruik om Deng Xiaoping in 1973 terug te bring in die party se leierskap. Liu Shaoqi is tussen in 1969 in die tronk dood.
Net voor Mao se dood het ’n magstryd tussen die Bende van Vier en die alliansie van Deng Xiaoping, Zhou Enlai en Ye Jianying plaasgevind.
Val van die bende
[wysig | wysig bron]Zhou Enlai is in Januarie 1976 dood en die radikale het in April weer daarin geslaag om van Zhou se bondgenoot Deng Xiaoping ontslae ta raak. Zhou se opvolger as premier was egter nie een van die radikale nie, maar die relatief onbekende Hua Guofeng. Hua is ook aangewys as eerste ondervoorsitter van die party.
Mao is op 9 September dood. Die Bende van Vier het vir die volgende paar weke beheer behou oor die party en die regering se media, en baie artikels het verskyn oor "beginsels wat Mao neergelê" (of "gevestig") het aan die einde van sy lewe.[8][9] Stedelike militia-eenhede wat deur ondersteuners van die radikale gelei is, is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.[10][9]
Hua Guofeng het die radikale se media-aanslag laat in September aangeval,[11] maar Jiang Qing het van hom verskil en daarop aangedring dat sy die nuwe partyvoorsitter word.[11] Op 4 Oktober het die groep in ’n koerantartikel gewaarsku "niks goeds sal gebeur" met enige revisionis (gematigde) wat in die gevestigde beginsels inmeng nie.[9] Die radikale het gehoop die belangrikste militêre leiers Wang Dongxing en Chen Xilian sal hulle steun, maar blykbaar het Hua die weermag aan sy kant gekry. Op 6 Oktober 1976 het hy die vier radikale leiers en ’n paar van hul minder belangrike bondgenote in hegtenis laat neem.
Van 21 Oktober af is begin om die bende landwyd te veroordeel en in Desember is lêers in verband met die bende se beweerde misdade aan die publiek bekend gemaak. Die Chinese media het hulle van al die buitensporighede van die Kulturele Rewolusie beskuldig.
Verhoor
[wysig | wysig bron]Die vier voormalige leiers is in 1981 verhoor en skuldig bevind aan bedrywighede teen die party. Jiang Qing was veral tydens die verhoor baie uitdagend en het luidkeels geprotesteer en soms in trane uitgebars. Sy was die enigste een van die vier wat haarself probeer verdedig het. Die verdediging het betoog sy het die bevele van Mao te alle tye gehoorsaam. Zhang Chunqiao het geweier om te erken hy het iets verkeerds gedoen. Yao Wenyuan en Wang Hongwen het hul spyt uitgespreek en skuld op al die aanklagte erken.[12]
Die aanklaers het politieke foute en werklike misdade van mekaar geskei. Onder laasgenoemde was die oorname van staatsmag en die partyleierskap; en die vervolging van sowat 750 000 mense, van wie 34 375 tussen 1966 en 1976 dood is.[13]
Jiang Qing en Zhang Chunqiao het die doodstraf gekry, wat later tot lewenslange tronkstraf versag is, terwyl Wang Hongwen en Yao Wenyuan onderskeidelik lewenslank en 20 jaar gekry het. Al die lede van die bende is intussen dood. Jiang Qing het in 1991 selfmoord gepleeg, Wang Hongwen is in 1992 dood, en Yao Wenyuan en Zhang Chunqiao is in 2005 dood nadat hulle onderskeidelik in 1996 en 1998 vrygelaat is.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ 1,0 1,1 "Yao Wenyuan". The Economist (in Engels). ISSN 0013-0613. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2018. Besoek op 22 Mei 2016.
- ↑ Glossary of Names and Identities in Mao's Last Revolution, deur Roderick MacFarquhar en Michael Schoenhals, Harvard University Press 2006.
- ↑ MacFarquhar, Roderick (13 Januarie 1997). The Politics of China: The Eras of Mao and Deng (in Engels). Cambridge University Press. ISBN 9780521588638.
- ↑ Domes, Jürgen (1 Januarie 1985). Peng Te-huai: The Man and the Image (in Engels). Stanford University Press. ISBN 9780804713030.
- ↑ Tsou, Tang (15 April 1999). The Cultural Revolution and Post-Mao Reforms: A Historical Perspective (in Engels). University of Chicago Press. ISBN 9780226815145.
- ↑ Jiaqi, Yan; Gao Gao (1996). Turbulent Decade: A History of the Cultural Revolution. University of Hawaii Press. pp. 56–64. ISBN 0-8248-1695-1.
- ↑ Lu, Xing (2004). Rhetoric of the Chinese Cultural Revolution: the impact on Chinese thought, culture, and communication. University of South Carolina Press. pp. 143–150 ISBN 1570035431.
- ↑ Hsü, Immanuel Chung-yueh (1990), China Without Mao: the Search for a New Order, Oxford University Press, p. 15, ISBN 0-19536-303-5
- ↑ 9,0 9,1 9,2 Baum, Richard (1996), Burying Mao: Chinese Politics in the Age of Deng Xiaoping, Princeton University Press, p. 40, ISBN 0-69103-637-3
- ↑ Hsü, Immanuel Chung-yueh (1990), China Without Mao: the Search for a New Order, Oxford University Press, p. 13, ISBN 0-19536-303-5
- ↑ 11,0 11,1 Hsü, Immanuel Chung-yueh (1990), China Without Mao: the Search for a New Order, Oxford University Press, p. 16, ISBN 0-19536-303-5
- ↑ Zheng, Haiping (2010). "The Gang of Four Trial" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 April 2020. Besoek op 31 Desember 2017.
- ↑ "China the Four Modernizations, 1979-82". Country-studies.com. Besoek op 22 Julie 2011.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- "Trial of China's Gang of Four", BBC
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia