iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.
iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.



Link to original content: http://af.wikipedia.org/wiki/Sergei_Diaghilev
Sergei Diaghilev - Wikipedia Gaan na inhoud

Sergei Diaghilev

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Sergei Diaghilev
Portret van Sergei Diaghilev met sy kinderoppasser, deur Léon Bakst (1906).
Gebore
Sergej Pavlovič Djagilev

(1872-03-31)31 Maart 1872
Selisjtsji, Russiese Ryk
Sterf19 Augustus 1929 (op 57)
NasionaliteitVlag van Russiese Ryk Rusland
BeroepKunskritikus, beskermheer en ballet-impresario
Bekend virStigter van die Ballets Russes
Ouer(s)Pavel Pavlovič en Elena Valer'janovna Panaeva
Handtekening

Sergei Diaghilev, in Afrikaans ook gespel as Sergei Diaghilef of - in Italiaans, soos op sy grafsteen, Sergese Diaghilew; aanbevole wetenskaplike transliterasie: Sergej Pavlovič Djagilev - (* 31 Maart 1872 in Selisjtsji, Russiese Ryk; † 19 Augustus 1929 in die Grand Hôtel des Bains, Lido di Venezia, Venesië) was 'n Russiese balletimpressario wat veral beroemdheid verwerf het as regisseur van die legendariese balletgeselskap Ballets Russes. Diaghilev het 'n groot bydrae tot die balletkuns gelewer omdat hy suiwerheid van styl en tegniek bevorder het.

Bewonderaars lê dikwels blomme en balletskoene op Sergei Diaghilev se Venesiaanse graf neer

Sergei Pawlowitsj Diaghilev is op 19 Maart 1872 in 'n welvarende gesin in Rusland gebore. Sy pa was 'n kolonel in die kavallerie, maar dit was wodka-distillerye waarmee die familie 'n fortuin gemaak het.

Ná sy skoolloopbaan het Diaghilev in Sint Petersburg in die regte gaan studeer. Hier het hy vriende gemaak met vooraanstaande kunstenaars soos Alexander Benois, Léon Bakst, Walter Nouvel en Dmitri Wladimirowitsj Filosofof. Saam met hierdie groep kunstenaars het hy in 1899 die tydskrif Mir Iskoesstwa 20 ("Wêreld van die Kuns") gestig, wat gou 'n groot invloed op die Russiese kunsgebeure uitgeoefen het.

In 1908 het Diaghilev 'n unieke opvoering van die opera Boris Godoenof van Modest Moessorgski in die Opéra van Parys op die planke gebring. Die sukses van die opvoering was só groot dat Diaghilev 'n kontrak van 'n jaar aangebied is om in Parys te bly. Diaghilev het van die geleentheid gebruik gemaak om 'n groep Russiese dansers wat in daardie stadium in Frankryk opgetree het, te oorreed om saam met hom 'n geselskap te stig. Bekende dansers soos Anna Pavlova, Tamara Karsavina, Vera Karalli, Ida Rubinstein, Vaslav Nijinsky en Michail Mordkin het hulle by hom aangesluit. Die groep se choreograaf was Michel Fokine. Die sukses wat Diaghilef se geselskap, Ballets Russes, met hul opvoerings behaal het, het die begin van 'n nuwe ballet-era in Wes-Europa ingelui.

Ewe belangrik was Diaghilev se bydrae tot die aanvaarding van homoseksuele leefstyle. Sy verhoudings tot balletdansers was allesbehalwe platonies - en is deur die boonste lae van die samelewing goedgekeur. Ewe eksplisiet - en tot dusver ongekend - was die soms erotiese inhoud en opvoeringstyl van sy heteroseksuele balletdanspare.

Diaghilev is op 19 Augustus 1929 in sy kamer in die Grand Hôtel des Bains in Lido di Venezia aan suikersiekte oorlede. Sy dood het ook die einde van die geselskap Ballets Russes beteken. Twee dae ná sy afsterwe is hy in die Grieks-Ortodokse afdeling van die Venesiaanse begraafeiland San Michele ter ruste gelê. Gerugte het die rondte gedoen - en word steeds versprei - dat Diaghilev se vriende vir sy hotelverblyf moes betaal. Hulle was ongegrond. Diaghilev het 'n groot bedrag kontant agtergelaat wat in 'n hotelkluis bewaar is.

Naas die herinstudering van groot klassieke ballette was Diaghilev se grootste verdienste die stimulering van eietydse werke waaraan allerlei kunstenaars kon meewerk. Komponiste soos Strawinski is deur Diaghilev geïnspireer om spesiaal balletmusiek te skryf (onder meer Petrouchka). Kunstenaars soos Bakst, Benois, Picasso, Matisse, ensovoorts het dekor en kostuums vir hom ontwerp. Uit die groot repertoire wat Diaghilev met sy groep opgebou het, moet veral genoem word Les Sylphides (1909), L'Oiseau de feu ("Die Vuurvoël"; 1910), Petrouchka (1911), Prélude à I'après-midi d'un faune (1912) en Le fils prodigue (1929).

Musea

[wysig | wysig bron]

'n Museum ter ere van Sergei Diaghilev is in die Russiese stad Perm ingerig.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Wikimedia Commons logo Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Sergei Diaghilev.
  • (en) "Serge Diaghilev". Encyclopædia Britannica. Besoek op 16 September 2019.
  • (en) Sergei Diaghilev by Find a Grave
Mir iskoesstwa