iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.
iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.



Link to original content: http://af.wikipedia.org/wiki/Nicolaas_Hofmeyr
Nicolaas Hofmeyr - Wikipedia Gaan na inhoud

Nicolaas Hofmeyr

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Prof. Nicolaas Jacobus Hofmeyr.

Prof. dr. Nicolaas Jacobus Hofmeyr (Kaapstad, 8 Maart 1827Stellenbosch, 2 September 1909) was 'n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, hoogleraar aan die Kweekskool op Stellenbosch, 'n skrywer van Christelike boeke en medestigter van twee beroemde Stellenbosse skole.

Prof. Hofmeyr was 'n afstammeling van die broers Hofmeyr wat in die helfte van die 18de eeu aan die Kaap kom woon het. Sy vroegste skoolopleiding ontvang hy aan Tot Nut van 't Algemeen, die Hollandse skool in Kaapstad. Sy letterkundige en teologiese studie voltooi hy aan die Universiteit van Utrecht in Nederland, waar hy in 1849 die kandidaateksamen in die teologie met hoogste lof aflê. Nadat hy sy proponenteksamen afgelê het en in Den Haag georden is, keer hy na Suid-Afrika terug en tree in diens van die NG Kerk in September 1851 as leraar van die gemeente Calvinia. Hy arbei sewe jaar hier tot hy in 1858 as hoogleraar van die pas gestigte Kweekskool op Stellenbosch aangestel word. Sy eerste kollega was prof. John Murray. Saam met laasgenoemde was hy verantwoordelik vir die opstel van die eerste kursusse. Baie jare het hy onberekenbare invloed op sy studente uitgeoefen en bly werksaam aan die Kweekskool tot 1907 toe hy aftree. Na raming het meer as 300 studente hul opleiding as predikante by hom gekry. As prediker munt hy uit vanweë sy heldere gedagteloop, sy geestelike sin wat van 'n diepe persoonlike ondervinding getuig, die oortuigende krag van sy welsprekendheid en die aanloklike wyse waarop hy die genade van Christus kon voorstel.

Hy het baie in die onderwys belanggestel en hierin was sy bondgenoot ds. J.H. Neethling van Stellenbosch asook prof. Murray. Op hulle aandrang is die Stellenbosse Gymnasium (nou die Paul Roos Gimnasium) in 1866 gestig. Hieruit het die senior afdeling van die Victoria-kollege ontwikkel wat in 1918 die Universiteit van Stellenbosch geword het. Hulle het ook die Hoër Meisieskool Bloemhof gestig. Prof. Hofmeyr het hom vroeër al verset teen die liberalisme wat die NG Kerk begin indring het. In 1862 stig hy De Volksvriend, wat veral die ortodokse Calvinistiese geloof teenoor die liberalisme beklemtoon het. Hy het die geselskap van jongmense geniet en begin die Sondagoggend-Bybelklasse op Stellenbosch waaruit die Christelike Jongeliedevereniging voortgespruit het. Sodoende het hy landswyd bekendgeraak. Hierdie lesings word in 'n aantal stigtelike boeke gepubliseer, wat wye invloed uitgeoefen het en selfs in Engels en Duits vertaal is. Sy skryfwerk sluit in: Tegenstellingen (1884), Niet knecht maar kind (1896), Aan de voeten van Paulus (1905) en Met Jezus op den berg (1907).

Saam met prof. John Murray en dr. Abraham Faure stig hy die Zuid-Afrikaansche Christelijke Boeken Vereeniging in 1853 om te voldoen aan die behoefte vir Christelike leesstof, veral op die platteland.

Prof. Hofmeyr was iemand met 'n baie veelsydige karakter. Hy het hom nooit voorgedoen as 'n geleerde nie en tog het hy veel deurdag en veel ondersoek. Sy helder verstand het hom gelei tot resultate waaroor hy met gesag kon praat sonder om hom in geleerde terme uit te druk. In alles was hy deeglik. Ook sy eenvoud en ongekunsteldheid het die aandag getrek.

Hy sterf in sy 82ste lewensjaar op Stellenbosch.

Gesinslewe

[wysig | wysig bron]
Die Murray-Hofmeyr-gedenkteken, in 1913 voor die Kweekskool op Stellenbosch opgerig.

Hy was die tiende kind van Jan Hendrik Hofmeyr (1798-1862) en Hester Sophia Joubert. Jan Hendrik se vader, Stephanus Johannes Hofmeyr (1760-1826), was die tweede seun van die Hofmeyrs se stamvader, Johann Heinrich Hofmeyr (1721-1805). Een van N.J. Hofmeyr se broers was ds. Servaas Hofmeyr. Hy trou op sy 25ste verjaardag met Maria Magdalena Louw (1834-1918). Hulle het vyf seuns en ses dogters gehad, onder wie:

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • Dreyer, eerw. A. 1924. Eeuwfeest-Album van de Nederduits Gereformeerde-Kerk in Zuid-Afrika 1824 - 1924. Kaapstad: Publikatie-kommissie van de Z.A. Bijbelvereniging.
  • Gaum, dr. Frits (hoofred.), Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM, 2008.
  • Hofmeyr, George (hoofred.), 2002. NG Kerk 350. Wellington: Lux Verbi.BM.
  • Potgieter, D.J. (hoofred.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasou Limited.
  • Swart, dr. M.J. (voorsitter redaksiekomitee). 1980. Afrikaanse kultuuralmanak. Aucklandpark: Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge.
  • (af) Hofmeyr, W. Lou(w); Hofmeyr, Nico J.; Hofmeyr, S.M.; Hofmeyr, George S.; Hofmeyr, Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers.