iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.
iBet uBet web content aggregator. Adding the entire web to your favor.



Link to original content: http://af.wikipedia.org/wiki/Monaco
Monaco - Wikipedia Gaan na inhoud

Monaco

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Vorstedom Monaco
Principauté de Monaco (Frans)
Principatu de Munegu (Monegaskies)
Vlag van Monaco Wapen van Monaco
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Deo Juvante
(Latyn vir: "Met die hulp van God")
Volkslied: Hymne Monégasque
(Frans vir: "Volkslied van Monaco")
Ligging van Monaco
Hoofstad Monaco[1][2]

43°44′N 7°25′O / 43.733°N 7.417°O / 43.733; 7.417

Grootste stad Monte Carlo

43°44′N 7°26′O / 43.733°N 7.433°O / 43.733; 7.433

Amptelike tale Frans[3]
Regering

Monarg
• Staatsminister
Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Albert II
Didier Guillaume
Onafhanklikheid
Huis van Grimaldi
• Frans-Monegaskiese Verdrag
• Eerste grondwet
• Frans-Monegaskiese Verdrag

1297
1861
1911
2002
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
2[4] km2  (253ste)
0,77 myl2
feitlik geen[5]
Bevolking
 - 2024-skatting
 - 2016-sensus
 - Digtheid
 
31 813[4] (216de)
37 308[6]
15 906,5 / km2 (1ste)
41 315,6 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2015-skatting

$7,672 miljard[4] (171ste)
$115 700[4] (3de)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2022-skatting

$8,784 miljard[4] (159ste)
$190 513[7] (2de)

MOI (2008) 0,956[8] (1ste)  –  baie hoog
Geldeenheid Euro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+01)
MEST (UTC+02)
Internet-TLD .mc
Skakelkode +377

Monaco (Frans Monaco, [mɔnako]; Monegaskies: Munegu), amptelik die Vorstedom Monaco (Frans: Principauté de Monaco; Monegaskies: Principatu de Munegu), is 'n Europese stad- en mikrostaat. Ná die Vatikaanstad is Monaco die tweede kleinste land ter wêreld en word deur die oudste heersende dinastie, die Huis van Grimaldi, geregeer.

Die paleis van Monaco
Le Rocher met die historiese middestad (Le Rocher of Monaco-Ville genoem)

Monaco is tussen Frankryk en die Middellandse See geleë, aan die Franse Riviera of Côte d'Azur ("Asuurblou Kus") en sowat 21 km van die Franse grens met Italië af. Monaco, wat volledig deur Franse staatsgebied omsluit word, bestaan hoofsaaklik uit die ou stad Monaco en die woongebiede wat later bygevoeg is. Dit is die digbevolkste staat ter wêreld met meer as 16 000 inwoners per vierkante kilometer.

Na Monaco word dikwels verwys as die Manhattan van die Middellandse See, 'n bynaam wat op die talle wolkekrabbers en voortdurende boubedrywighede in die vorstedom sinspeel. Monaco is allermins een van die aantreklikste kusoorde langs die Franse Riviera – Monte Carlo word eerder as 'n lofsang op glas en beton beskryf, versinnebeeld deur veelverdieping-hotelle en woonsteltorings wat uit 'n doolhof strate verrys en met hul helder fasades 'n sterk kontras vorm teen die heuwels in die agtergrond. Nogtans is daar ook 'n historiese kwartier, geleë op 'n groot rotsformasie aan die hawe se suidekant, Le Rocher. Hier is ook die prinslike paleis geleë.

Die vraagstukke, wat die klein vorstedom in die gesig staar, verskil nie baie van dié van groter lande nie. Die handhawing van die openbare orde is 'n prioriteit vir die regering; lae misdaadsyfers is belangrik om Monaco se aantreklikheid vir die welgesteldes en skones te bewaar. Terselfdertyd het Monaco aan die begin van die 21ste eeu die voorheen ongekende stap gedoen om sy deure vir hoofstroom-toerisme te open.

Toeriste word deur die aangename klimaat en uitstekende infrastruktuur met 'n hoë digtheid luukse hotelle en eersterangse restourante (waaraan tien Michelin-sterre toegeken is[9]) gelok; welvarendes trek daarnaas voordeel uit Monaco se reputasie as verskaffer van finansiële dienste, belastingshawe – alhoewel lande soos Frankryk moeite doen om die vorstedom se aantrekkingskrag op belastingontduikers te verminder, terwyl ook inligting uitgeruil word met die Amerikaanse federale belastingsdiens Internal Revenue Service (IRS) – en jaghawe. Met uitsondering van Franse burgers, wat in hul geboorteland belastingpligtig bly, hoef permanente bewoners geen belasting op inkomste en erflatings te betaal nie – rede genoeg vir welvarende buitelanders om hulle in die vorstedom te vestig. Ondernemings trek eweneens voordeel uit Monaco se belastingwetgewing.

Bekende persoonlikhede uit die televisie- en vermaakbedryf vergader jaarliks in Monaco ter geleentheid van Monte Carlo se televisiefees wat danksy 'n inisiatief van vors Rainier III sedert 1961 gehou word. Die invloed van Monaco se eie uitsaaibedryf strek ver buite sy grense. Sedert die 1960's maak Radio Monte-Carlo (RMC) gebruik van senders met baie groot reikwydtes om gehore in groot dele van Frankryk te teiken. Sedert die 1970's word ook programme vir Italiaanse luisteraars uitgesaai. RMC beskik oor uitgebreide FM-netwerke in albei lande. Franse radioprogramme word aangevul deur die televisiediens TV Monte-Carlo (TMC).[10]

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Gedurende die 6de eeu v.C. het Phokeane van Massalia (die huidige Marseille) die kolonie Monoikos gestig.[11] Die naam van dié kolonie is ontleen aan die plaaslike aanbidding van die Griekse halfgod Herakles, wat later ook deur die Romeine vereer is en volgens oorlewering 'n antieke pad deur die streek van Spanje na Italië gebou het.[11] Die Romeinse keiser Julianus het ook Herakles se bouwerk aan Monaco se hawe en 'n kuspad beskryf.[12] Die pad was besaai met altare vir Herakles en 'n tempel wat aan hom gewy was, is op die rots van Monaco opgerig. Vervolgens is die benaming "Hawe van Herakles" vir die antieke hawe gebruik.[11] Monoeki beteken "enkele een" en Monoikos beteken "enkelhuis" wat 'n verwysing kon gewees het na Herakles of sy tempel, of die geïsoleerde gemeenskap wat die gebied rondom die rots bevolk het.[11]

Geografie en klimaat

[wysig | wysig bron]

Geografie

[wysig | wysig bron]
Nasa-Satellietbeeld van Monaco
Die 10 wyke van Monaco
'n Uitsig oor Monte Carlo

Die Vorstedom Monaco is, naas die Vatikaanstad, die kleinste onafhanklike staat ter wêreld. Dit lê aan die Mediterreense kus, sowat 18 km oos van Nice en digby die Italiaanse grens. Monaco word deur Frankryk omring, behalwe 'n kus langs die Liguriese See. Die vorstedom beslaan 'n smal strokie land, met 'n kuslyn van meer as 3,2 km, waar die rotswande van die Alpynse voorheuwels steil uit die see verrys. Die hoogste punt in die vorstedom is "Le Rocher" (Die Rots), 140 m bo seespieël.

Tot 1959 het Monaco 'n oppervlakte van slegs sowat 150 ha beslaan. Sedertdien is die grondgebied deur middel van landwinning tot 202 ha vergroot. Groot dele daarvan is dig bebou, en dikwels word ouer geboue afgebreek om plek te maak vir nuwe veelverdiepinggeboue.

Monaco word in 10 wyke (quartiers) verdeel:

  1. Monaco-Ville, die hoofstad en ou stad wat op 'n voorgebergte in die Middellandse See lê
  2. La Condamine, die hawegebied
  3. Monte Carlo, die vernaamste woongebied en vakansieoord met die kasino
  4. Fontvieille, 'n nuwe woongebied wat kunsmatig uit die see gewen is, met onder meer die winkelsentrum Carrefour
  5. Moneghetti aan die westelike grens met die Cap d'Ail
  6. Larvotto Terano met sy seeklub, noordoos van Monte Carlo
  7. en Saint-Romain, 'n klein gemeenskap wat aan Larvotto Terano grens
  8. Saint Michel
  9. La Colle
  10. Les Révoires

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Die vorstedom staan bekend vir sy natuurskoon en sy matige Mediterreense winterreënklimaat met warm en droë somers en 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van 16 °C. Die gemiddelde laagste temperatuur in Januarie en Februarie is 8 °C (47 °F), terwyl die gemiddelde hoogste temperatuur in Julie en Augustus tot 26 °C (78 °F) styg. Daar word 'n gemiddeld van meer as driehonderd sonskyndae en 'n gemiddelde reënval van sowat 800 mm per jaar aangeteken.

Weergegewens vir Monaco
Maand Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gemiddelde maksimum (°C) 12,3 12,5 14,0 16,1 19,4 23,0 25,8 25,9 23,8 19,9 16,1 13,4 18,5
Gemiddelde temperatuur (°C) 10,2 10,4 11,8 13,9 17,1 20,8 23,5 23,7 21,6 17,8 14,0 11,4 16,4
Gemiddelde minimum (°C) 8,1 8,2 9,6 11,6 14,8 18,5 21,2 21,5 19,3 15,6 11,9 9,3 14,1
Neerslag (mm) 82,7 76,4 70,5 62,2 48,6 36,9 15,6 31,3 54,4 108,2 104,2 77,5 768,5
Sonskynure (u/d) 148,8 152,6 201,5 228,0 269,7 297,0 341,0 306,9 240,0 204,6 156,0 142,6 224,5
Reëndae (d) 6,8 6,4 6,1 6,3 5,2 4,1 1,9 3,1 4,0 5,8 7,0 6,0 62,7
Bron: Monaco se webwerf[13]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Antieke tydperk

[wysig | wysig bron]
Monaco as deel van die Romeinse Ligurië, 1ste eeu v.C.

Die naam Monaco is afgelei van die nabygeleë Griekse kolonie Monoikos, wat in die 6de eeu v.C. deur Griekse setlaars, die Phokeane, gestig is. Volgens 'n ou mite het Herkules die gebied van Monaco besoek, en ter ere van hom het die Phokeane 'n tempel opgerig – die tempel van Herkules Monoikos, wat later die middelpunt van 'n Gallies-Romeinse nedersetting sou word. Die godheid se bynaam Monoikos – die Unieke – sou vervolgens ook na die nedersetting verwys.

Monoikos is in 122 v.C. deur Romeinse troepe verower. Gedurende die bloeitydperk van die Romeinse Ryk het ook Monaco gefloreer. Akwadukte het in die kusgebied ontstaan om nedersettings van vars water te voorsien, terwyl paaie, wat langs die Mediterreense kus geloop het, Italië met Spanje verbind het. Uit die gebied van Monaco is olyfolie, wyn en suurlemoene na Rome uitgevoer.

Ná die ondergang van die Romeinse Ryk in die 5de eeu het Germaanse stamme die gebied binnegedring. Die inheemse bevolking het met Gotiese en Frankiese setlaars vermeng wat hulle hier gevestig het.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Muurskildery van François Grimaldi wat – verklee as 'n monnik – daarin geslaag het om die Rots van Monaco in te neem

Min is bekend oor die gebied se geskiedenis tussen die 5de en 10de eeu. Monaco het in die 9de eeu 'n deel van die Graafskap Nice geword.

Teen die middel van die 11de eeu het Genuese troepe die stad verower, en Monaco het 'n kolonie van die Italiaanse Republiek van Genua geword. Vanaf 1070 het lede van die Grimaldi-gesin as stadshere gefungeer. Die keisers van die Heilige Romeinse Ryk het die inlywing van Monaco by die Genuese magsgebied herhaaldelik goedgekeur. In 1162 het keiser Frederik Barbarossa sy toestemming vir die vestiging van Genuese koopmans in die gebied verleen, terwyl keiser Hendrik VI Monaco in 1191 amptelik aan die Republiek van Genua geskenk het. Die politieke en militêre gesag is deur twee Genuese kastellane (castellani) uitgeoefen wat ook die opperbevel oor Monaco se garnisoen gehad het. Regspraak is deur 'n regter (podestà) uitgeoefen. Die gemeenskap van Monegaskiese burgers (in Latyn Universitas genoem) het die administrasie van die gebied in hande gehou; namens hulle is Monaco deur twee amptenare of syndici geadministreer.[14]

Twee eeue lank het 'n bloedige magstryd hier afgespeel tussen twee Genuese partye – die Ghibelline, aanhangers van die keisers, en die pousgesinde Guelfe. Die Ghibelline het in 1215 'n vesting opgerig, die historiese voorloper van die huidige vorstepaleis. In 1297 het François Grimaldi, 'n lid van die Guelfe-party, in die py van 'n Fransiskaanse monnik ("monaco" in Italiaans) verklee en die Ghibelline-vesting ingeneem wat die beroemde rots van Monaco destyds beskerm het. Die gesinshoof van die Guelfe het sy heerskappy as Rainier I begin en die stamvader van die nog steeds regerende dinastie van die Huis van Grimaldi geword wat Monaco sedertdien as 'n onafhanklike gebied geregeer het.

In 1346 het Charles I Grimaldi daarin geslaag om die nabygeleë stad Menton by Monaco in te lyf. 1355 het ook Roquebrune 'n Monegaskiese besitting geword. Tydens die heerskappy van Jean I het Monaco in 1419 uiteindelik die eiendom van die Huis van Grimaldi geword. Die Franse koning Karel VIII en die hertog van Savoie het in 1489 met 'n oorkonde die onafhanklikheid van Monaco erken.

Monaco as vorstedom

[wysig | wysig bron]
Afstigting van die stede Menton en Roquebrune in 1848

Honoré II van Monaco het in 1612 die eerste heerser geword wat die titel "vors" gedra het. In 1731 het die heerskappy van die geslagslyn van Goyon de Matignon-Grimaldi begin.

Die enigste tydperk van vreemde heerskappy was die jare van 1789 tot 1814, toe Monaco deur Frankryk geannekseer is. Lede van die Huis van Grimaldi is reeds gedurende die Franse Rewolusie in hegtenis geneem en het enkele jare in die tronk deurgebring. Toe hulle vrygelaat is, was hulle om finansiële redes genoodsaak om die grootste deel van hul besittings te verkoop. Hul paleis, wat tydens die Rewolusie as pakhuis gedien het, het herstelwerk nodig gehad.

Volgens 'n besluit van die Kongres van Wene was Monaco van 1815 tot 1860 'n protektoraat van die Koninkryk Sardinië, terwyl sy onafhanklikheid een jaar later deur die Frans-Monegaskiese Verdrag erken is. In 1836 het die kasino van Monaco sy deure geopen.

Die stede Menton en Roquebrune het in 1848 hulle onafhanklikheid verklaar en is twaalf jaar later by Frankryk ingelyf. Nadat Sardinië in 1861 'n deel van die koninkryk Italië geword het, het Frankryk danksy die oortuigingskrag van vors Charles III Grimaldi (1856–1889) die soewereiniteit van Monaco en sy huidige grense erken.

In 1865 het die doeane-unie tussen Frankryk en Monaco in werking getree. Tegelykertyd is die kasino van Monaco geopen. Danksy die wins uit die kasinobedryf geniet die inheemse bevolking van 1869 af belastingvryheid.

20ste eeu

[wysig | wysig bron]
Monaco in die aandskemer
Prins Rainier III en Gracia Patricia

Tot en met die proklamasie van 'n Grondwet in 1911 tydens die heerskappy van Albert I Grimaldi (1889–1922), het die prins van Monaco as 'n absolute heerser regeer. In Julie 1918 is 'n ooreenkoms onderteken wat bepaal het dat Frankryk in 'n beperkte mate as 'n beskermende mag sal optree. Die ooreenkoms, wat deel van die Verdrag van Versailles was, het van Monaco 'n protektoraat van Frankryk gemaak en die Monegaskiese politiek ondergeskik gemaak aan Franse politieke, militêre en ekonomiese belange. Die ooreenkoms het daarnaas ook Monaco se erfopvolging gereël; die Duitse dinastie Uracht-Württemberg is hiervan eksplisiet uitgesluit, selfs al sou die Huis van Grimaldi eendag uitsterf.

Vanaf die 1920's het Monaco 'n gewilde vakansiebestemming vir Europese en Amerikaanse film- en sportsterre en ander welgesteldes geword. Steeds meer luukse jagte het Monaco-hawe aangedoen, terwyl kunstenaars soos die skilder Pablo Picasso tot die vorstedom se natuurskoon aangetrokke gevoel het. Die motorwedren Grand Prix de Monaco, wat in 1929 vir die eerste keer gehou is, het vinnig een van Europa se groot sportgebeurtenisse geword.

Nadat die nagevolge van die Groot Depressie ook in Europa baie rykdom vernietig het, het Monaco moeilike tye beleef. Die inkomste uit die plaaslike kasinobedryf en ander besighede het skerp gedaal. Die oorlogsjare tussen 1939 en 1945 was nóg 'n donker episode in die geskiedenis van die vorstedom. Alhoewel vors Louis II aanvanklik sy neutraliteit in die konflik tussen die fascistiese spilmoondhede en die geallieerdes verklaar het, het hy vervolgens aktiewe steun aan die Vichy-regering verleen, 'n bewind wat deur Nazi-Duitsland in die suidelike gedeelte van Frankryk geïnstalleer.

Prins Rainier III het die troon in 1949 bestyg ná die dood van sy grootvader Prins Louis II. Hy is in 1956 met die Amerikaanse rolprentster Grace Kelly (prinses Gracia Patricia[15]) getroud. Met die nuwe Grondwet, wat in 1962 geproklameer is, is die doodstraf afgeskaf, die stemreg vir vroue ingevoer en 'n hooggeregshof ingestel om basiese burgerregte te beskerm.

In 1982 het prinses Gracia Patricia in 'n tragiese motorongeluk gesterf. In 1993 het Monaco 'n volwaardige lidstaat van die Verenigde Nasies geword.

21ste eeu

[wysig | wysig bron]
Bougrond is in Monaco so skaars dat landwinning oorweeg moet word

In 2002 het 'n nuwe ooreenkoms tussen Frankryk en Monaco bepaal dat die vorstedom 'n onafhanklike staat mag bly, selfs al sou daar geen erfgename wees wat die troon kan bestyg nie. 'n Vroeëre verdrag het in hierdie geval vasgelê dat Monaco weer by Frankryk ingelyf sou word. Die verantwoordelikheid vir militêre sake berus egter steeds by Frankryk.

Ses jaar ná sy aansoek om lidmaatskap is Monaco op 5 Oktober 2004 as die 46ste lidstaat van die Raad van Europa aanvaar. As 'n voorvereiste vir sy lidmaatskap, het Monaco 'n aantal grondwetlike hervormings deurgevoer waardeur die vorstedom meer in die rigting van 'n demokratiese regstaat beweeg en sy onafhanklikheid van Frankryk versterk het. Nogtans is die voorregte van die sowat 7 700 Monegaskiese burgers, veral op die arbeids- en behuisingsmark, bewaar.

Weens die ernstige siekte van sy vader het prins Albert vanaf 31 Maart 2005 sy ampspligte uitgevoer. Met die dood van prins Rainier op 6 April 2005 het Albert sy vader ná 'n routyd van drie maande op 12 Julie as prins Albert II opgevolg. Hy het op 1 Julie 2011 in die huwelik met die voormalige Suid-Afrikaanse swemmer Charlene Lynette Wittstock getree.

'n Nuwe landwinningsprojek ter waarde van omstreeks een miljard € is in 2014 in die beplanningsfase. Monaco se oppervlakte sal met ses hektaar vergroot word om nuwe geboue met tussen ses en tien verdiepings op te rig – waaronder luukse woonstelgeboue, winkels, sakekantore en geriewe vir openbare instellings asook 'n parkeerterrein en jaghawe vir veertig bote. Die nuwe buurt, wat tussen die hawebaai Anse du Portier en die Grimaldi-forum ontstaan, sal op 'n reuse-fondamentplaat rus wat twintig meter hoog is. Motors sal grotendeels verban word.[16]

Politiek

[wysig | wysig bron]
'n Uitsig oor die hele staatsgebied van die Vorstedom Monaco

Monaco word sedert 1911, toe vors Albert I die eerste grondwet van Monaco, die Organisation constitutionelle, afgekondig het, as 'n konstitusionele monargie geregeer, waarby die prins as staatshoof optree. Die staatsminister en regeringshoof is die voorsitter van die regeringsraad met vier lede (die kabinet). Staatsminister en regeringsraad vorm gesamentlik die uitvoerende gesag van Monaco.

Die staatsminister moet 'n Franse burger wees. Hy word deur die prins benoem. Die Franse regering stel volgens die verdrag van 1861 vooraf 'n aantal kandidate vir die amp voor.

Volgens die nuwe Grondwet van 1962 is Monaco 'n vorstedom met beperkte soewereiniteit. Die prins deel sy uitvoerende gesag met die een-kamer-parlement van Monaco, die Nasionale Raad (Conseil National). Die 24 lede van die parlement word vir 'n periode van vyf jaar in 'n algemene verkiesing gekies.

Die plaaslike politiek word deur die Kommunale Raad (Conseil Communal) met 15 verkose lede beheer. Die burgemeester is die voorsitter van die raad.

Nuwe staatsverdrag met Frankryk

[wysig | wysig bron]
Vlag en wapen van Monaco

Prins Albert II het op 9 November 2005 in die Paryse Élysée-paleis 'n nuwe staatsverdrag met Frankryk onderteken waardeur die Vorstedom Monaco se outonomie vergroot is.

Volgens 'n konvensie van 1930 was alle politieke sleutelposte, waaronder ook die amp van ministre d'état (regeringsleier), gereserveer vir Franse amptenare, waarby die kandidate deur die Franse regering voorgestel en vervolgens deur die Vorstedom Monaco benoem is.

Volgens die nuwe staatsverdrag met Frankryk het tans ook Monaco die reg om self plaaslike kandidate te benoem. Terwyl die amp van regeringsleier nog deur 'n Franse burger (Michel Roger) beklee woord, het prins Albert II 'n Monegas, Franck Biancheri, benoem as minister van finansies en dus tweede belangrikste politikus in die regeringshiërargie.

Buitelandse betrekkinge

[wysig | wysig bron]
Monaco se ambassade in Washington, D.C.

Monaco handhaaf diplomatieke betrekkinge met ander state. Tans is daar vyftien Monegaskiese ambassades. Reeds in 1993 het die vorstedom 'n lidstaat van die Verenigde Nasies geword. Volgens die nuwe staatsverdrag met Frankryk vind gereeld konsultasie oor die grondbeginsels van Monaco se buitelandse beleid tussen die twee lande plaas, maar staan dit die vorstedom andersins vry om self met ander state diplomatieke betrekkinge aan te gaan en onderhandelinge oor wedersydse betrekkinge te begin. Sodanige onderhandelinge word onder meer met die Europese Unie gevoer.

Betrekkinge met die Verenigde State strek terug tot die middel van die 19de eeu. In 2006 is volle diplomatieke betrekkinge aangeknoop waarby die Amerikaanse ambassadeur in Frankryk ook in Monaco geakkrediteer word, net soos die Amerikaanse konsul-generaal in Marseille in wie se bevoegdheid die meeste diplomatieke en ander kontakte met Monaco val.[17]

Die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys dien ook as ambassade vir Monaco; die ambassadeur word in albei lande geakkrediteer.[18] Die eerste amptelike verteenwoordiger van Monaco in Suid-Afrika is reeds in November 1964 benoem. R.P.A. Dyker, die destydse verteenwoordiger van die Nederlandse lugredery KLM in Kaapstad, is as ere-konsul benoem, met toerisme as sy hooffokus.[19]

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Die Monegaske se lewenstandaard is hoog en vergelyk gunstig met dié van Franse metropolitaanse gebiede. Monaco is een van min lande sonder 'n publieke skuldlas.

Ekonomiese sektore

[wysig | wysig bron]
Uitsig oor die moderne kongres- en uitstalsentrum Forum Grimaldi wat teen 'n koste van €280 miljoen vlakby die strand van Larvotto opgerig en in Julie 2000 deur vors Rainier III amptelik ingewy is. Sowat 1 000 parkeerplekke en 'n vulstasie het ondergronds ontstaan
Woonstelblokke in Monte Carlo
Vertikale tuine is 'n geskikte oplossing vir 'n stad waar grond baie skaars is

Meer as 'n derde van Monaco se bruto binnelandse produk (33,94 persent) word deur twee ekonomiese sektore gegenereer, die bank- en versekeringbedryf (16,7 persent van die BBP) en wetenskap-, en tegnologiebedryf en administrasie (17,2 persent van die BBP). Ander belangrike sektore is handel (8,3 persent), onderwys, gesondheids- en sosiale dienste (8,1 persent) en eiendomme (7,6 persent).[20]

Die staatsinkomste het in 2012 sowat 900 miljoen € beloop (2011: 810 miljoen €), die staatsbesteding 896 miljoen € (2011: 861 miljoen €). So is vir die eerste keer sedert 2008 weer 'n staatsinkomste-oorskot aangeteken. Die hoofbronne van staatsinkomste was die belasting op toegevoegde waarde (49 persent), korporatiewe belasting, belasting op ekonomiese en juridiese transaksies en 'n aantal ander belastings. Staatsmonopolies (waaronder die kasinobedryf, die uitreiking van posseëls en die belasting op tabak) speel intussen 'n minder belangrike rol. Daar is geen inkomstebelasting vir natuurlike persone nie.

'n Groot deel van die staatsuitgawes word aan die uitbou van die infrastruktuur bestee. Die vorstedom het sy ekonomie suksesvol gediversifiseer en sowel die dienstesektor asook klein, skoon nywerhede met groot waardetoevoeging uitgebrei.

'n Nuwe stasie is opgerig en die vorstedom sal in die toekoms deel van Frankryk se TGV-sneltreinspoorwegnet wees. Die aantal bushaltes is tot meer as 140 vergroot, en ook die aantal hotelbeddens het aansienlik gestyg. Die tekort aan goedkoper driesterhotelle word intussen verlig deur onder meer 'n nuwe hotel van die Franse Novotel-ketting wat op die voormalige perseel van Radio Monte Carlo opgerig is.

Die Monegaskiese vervaardigingsbedryf is beperk tot ligte en omgewingsvriendelike nywerhede soos kosmetika en elektronika wat hoofsaaklik in Fontvieille, wes van Monaco-hawe, saamgetrek is.

Belasting

[wysig | wysig bron]
Hôtel de Paris

Monaco het sedert 1869 geen inkomstebelasting vir sy inwoners nie, maar wel 'n monopolie oor die posdiens en tabak. Die telefoonnetwerk is vroeër deur die staat beheer. Intussen is 49% in die besit van Cable and Wireless, 45% van die staat en 6% van die Compagnie Monégasque de Banque (Monegaskiese Bankmaatskappy), alhoewel dit nog steeds 'n monopolie is. Monopolies is dalk die opmerklike kenmerk van Monaco se ekonomie; dit bestaan ook ten opsigte van die televisie-opvangs (antennes word nie toegelaat nie en die plaaslike kabeltelevisie is 'n verpligte diens), gas-, elektrisiteits- en watervoorsiening.

Die belangrikste belasting is dié op toegevoegde waarde, naas korporatiewe belasting en belasting op ekonomiese en regstransaksies. Die gebrek aan 'n inkomstebelasting maak Monaco 'n aantreklike woonplek vir Europese welgesteldes wat die belastingnet in hulle vaderland wil ontwyk, met die noemenswaardige uitsondering van Frankryk. Die vorstedom het sodoende die tuiste van sowat 20 000 miljoenêrs geword. Die meeste is sakelui en verdien hulle inkomste uit ondernemings buite die vorstedom.

Kasinobedryf

[wysig | wysig bron]
Die Casino de Monte-Carlo

Die kasinomaatskappy, wat deur die Société des Bains de Mer (SBM) beheer word en ná die Tweede Wêreldoorlog sowat 70% van die staat se inkomste opgelewer het, dra met sy vyf kasino's nou minder as 5% by (in die jaar 1949 is dit nog 45 persent). Die kasino's is slegs oop vir buitelandse besoekers; Monegaske mag nie daar dobbel nie. Die SBM beheer tans veral gastronomiese ondernemings, soos sy vier hotelle (onder meer die luukse hotelle Monte Carlo Beach Hotel en die Hôtel de Paris), meer as 20 restourante en die nagklub Jimmy'z.

Die nuwe Monte Carlo Bay Hotel & Resort, 'n viersterhotel met elf verdiepings en 335 kamers, is op 1 Oktober 2005 op die skiereiland van die Larvotto ingewy en spog met sy eie strandmeer en chloorvrye water. Daarnaas beskik die SBM oor aansienlike eiendomme. Die staat besit 70 persent van die SBM se aandele, wat op die Paryse effektebeurs gelys is.

Ekonomiese ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
'n Toerbus neem toeriste na besienswaardighede

Monaco se bruto binnelandse produk (BBP) is in 2014 op 5,32 miljard € beraam. Die amptelike berekening van die per capita-BBP baseer op die de facto-bevolking (36 136, waarvan slegs 8 837 Monegaskiese burgers) en pendelaars uit die omgewing. Vir altesaam meer as 75 000 persone (alle permanente inwoners en pendelaars uit die buiteland) is dus in 2014 'n per capita-BBP van 63 497 € bereken.[21]

Die groot getal pendelaars wys daarop dat werkloosheid in Monaco tans onbekend is – die werkloosheidsyfer is nul persent. Die aantal ekonomies aktiewe persone het in 2013 met 2,4 persent toegeneem en was met 50 792 groter as die inwonertal. Die inflasiekoers het in 2012 1,7 persent beloop.

Aan die begin van die 21ste eeu het Monaco se tekort op die lopende rekening – wat steeds deur fondse uit die staat se skatkis geëwenaar word – aansienlik toegeneem. Die regering onder prins Albert II besef dat die vorstedom sy gewildheid onder veral jong toeriste sterk moet vergroot. Monaco begin dus nie net sy beeld as toeristebestemming heeltemal verander nie, maar het ook 'n grootskaalse beleggingsprogram van stapel gestuur.

Aangesien die prys vir 'n vliegkaartjie van byvoorbeeld Duitsland na Nice in 2005 tot sowat €25 gedaal het, probeer Monaco nou ook meer jong toeriste met minder koopkrag na die vorstedom lok.

Monetêre beleid

[wysig | wysig bron]
Luukse woonsteltorings in Monaco

Monaco is nie lid van die Europese Unie nie, maar deur die monetêre en doeane-unie nou verbind met Frankryk. Volgens 'n monetêre ooreenkoms, wat Monaco met Frankryk as die verteenwoordiger van die Europese Unie gesluit het, mag die vorstedom sedert Januarie 1999 die Euro as amptelike geldeenheid gebruik. Die vorstedom mag nie self Euro-banknote uitgee nie, tog het Monaco die reg om vanaf 1 Januarie 2002 Euro- en Centstukke met sy eie ontwerpe op die nasionale sy te munt.

Wetenskap en tegnologie

[wysig | wysig bron]

Monaco se telekommunikasie-sektor het 'n leidende posisie in Europa wat die ontwikkeling van nuwe kommunikasie-tegnologieë betref. Monaco Telecom het byvoorbeeld die eerste UMTS-netwerk in Europa ingevoer. Prins Albert II het in 2006 sy omgewingsbewaringstigting, Fondation Prince Albert II de Monaco, in die lewe geroep wat hom met klimaatsverandering, biodiversiteit en water bemoei.[22]

Buitelandse handel

[wysig | wysig bron]
Monegaskiese franc-muntstuk uit 1978 met 'n beeld van Rainier III

Weens die doeane-unie met Frankryk word gegewens oor die handel met dié buurland nie by amptelike statistieke oor die vorstedom se buitelandse handel ingesluit nie. Dus is Duitsland die belangrikste handelsvennoot, nog voor Italië. Die oorgrote deel van Monaco se buitelandse handel word met lidstate van die Europese Unie gedryf (66 persent van die uit- en 67 van die invoere). Die belangrikste handelsvennote buite die EU is die Verenigde State, Tunisië en die Volksrepubliek China.

Die totale invoere het in 2013 1015 miljoen € beloop, terwyl goedere en dienste ter waarde van 1037 miljoen € uitgevoer is. Daar was dus 'n oorskot van 22 miljoen € op die lopende handelsrekening.

Vervoer

[wysig | wysig bron]
Luukse jagte in Monaco-hawe

Vir die grootste deel van die 20ste eeu was Monaco se hawegeriewe, wat tussen 1901 en 1926 ontstaan het en as Monaco-hawe of Port Hercule bekendstaan, voldoende om die skeepsverkeer in die vorstedom te hanteer. Eers toe dit in die laaste jare van die eeu vinnig toegeneem het en ook steeds groter privaat jagte en plesierbote in die hawe aangedoen het, het prins Rainier III besluit om die hawe se kapasiteit te vergroot.

Die geskikte oplossing vir Monaco was 'n groot drywende hawehoof van 165 000 ton met 'n lengte van 352 meter en 'n wydte van 28 meter wat in Spanje gebou is. Dit het 700 werkers byna drie jaar geneem om die hawehoof te voltooi. In Augustus 2002 is die hawehoof na Monaco gesleep. Die seehawe se kapasiteit is sodoende verdubbel, en dit is tans een van die wêreld se leidende hawens vir plesierbote.[23]

Demografie

[wysig | wysig bron]
'n Lugfoto van Monaco
'n Nagtelike uitsig oor Monaco

Ná die inlywing van Macau by die Volksrepubliek China het Monaco die digbevolkste land ter wêreld geword, met 18 185,5 inwoners per vierkante kilometer in 2011. Monaco vorm saam met die aangrensende en nabygeleë Franse stede soos Menton 'n agglomerasie met meer as 100 000 inwoners.

Volgens die jongste sensus (2008) was daar 35 352 inwoners. In 2011 is die totale bevolking op sowat 36 000 beraam. Die sowat 7 700 Monegasse is 'n minderheid in hul eie land. Die grootste deel van die bevolking is Franse burgers (28%), Monegasse (22%) en Italianers (19%). Die ander 31% van Monaco se internasionale bevolking kom uit 125 verskillende lande.

Die ampstaal is Frans, maar daar word ook Monegaskies ('n taal wat van die Genuese dialek afgelei is), en Engels en Italiaans as omgangstale gepraat. Monegaskies is 'n verpligte skoolvak. Nege en negentig persent van die bevolking is geletterd.

Die Rooms-Katolieke Kerk is Monaco se staatskerk, maar die Grondwet waarborg godsdiensvryheid. In 2002 was 91% van die bevolking Rooms-Katoliek en die res hoofsaaklik Protestantse en Ortodokse Christene en Jode.

Kultuur en onderwys

[wysig | wysig bron]

Sport

[wysig | wysig bron]
Die sokkerstadion Stade Louis II

Die vorstedom tree sedert 1929 as gasheerland van die Grand Prix automobile de Monaco Formule Een-motorwedrenne en die Rallye automobile Monte-Carlo op, hoewel laasgenoemde oorwegend in die Franse département Alpes-Maritimes plaasvind.

Monaco het 'n sokkerklub, die Association sportive de Monaco Football Club (AS Monaco), wat in die Franse Premier-sokkerliga speel.

Museums

[wysig | wysig bron]
Die Oseanografiese Museum van Monaco

Die Oseanografiese Museum van Monaco, 'n instelling wat uitgebou is tot wêreldfaam, is in 1910 deur die verligte vors Albert I gestig, wat self in die Franse vloot diens gedoen het. Later was Jacques-Yves Cousteau (1910–1997), 'n Franse vlootoffisier, ontdekkingsreisiger, navorser en ekoloog, die direkteur van die museum.

Die museum huisves 'n groot aantal akwariums met seediere soos seesterre, seeperdjies, seeskilpaaie, seekwalle, krappe, kreef, rogvisse, see-egels, seekomkommers, palings, inkvisse en ander spesies, asook 'n groot verskeidenheid voorwerpe soos modelskepe, geraamtes van seediere, werktuie, wapens en ander objekte.

Vermaak

[wysig | wysig bron]

Van 21 tot 30 Oktober 2005 het Monaco sy eerste Oktoberfest gevier volgens die Beiers-Duitse tradisie, met 'n egte Bierzelt langs die Casino.[24] Die fees word sedertdien jaarliks gehou. Die inheemse Bière de Monaco, Duitse Weißwurst (wit worsies), Weihenstephan- en Hefeweizenbier word tydens die Oktoberfest selfs in die luukse Hôtel de Paris bedien.

Onderwys

[wysig | wysig bron]
Die Lycée Albert Premier is 'n gesogte openbare sekondêre skool in Monaco

Die onderwysstelsel in die vorstedom is grotendeels volgens die Franse voorbeeld georganiseer, met enkele plaaslike besonderhede.

Monaco se nege openbare en twee privaat skole met altesaam meer as 5 700 leerders van 'n sewentigtal nasionaliteite en meer as 500 onderwysers word op 'n internasionale grondslag bedryf. Daar is ses openbare kleuter- en laerskole, een hoërskool (collège), een gespesialiseerde hoërskool (lycée) wat algemene en tegniese opleiding aanbied asook een lycée wat praktiese beroepsopleiding (onder meer in die restaurantbedryf) verskaf. Monaco se twee privaat skole (met 1 200 leerders) word volgens 'n ooreenkoms tussen staat en kerk op 'n godsdienstige grondslag bedryf.[25]

Om nie-Franssprekende leerders in die Monegaskiese samelewing te integreer, word Frans as 'n vreemde taal onderrig. Engels-onderrig begin al op kleuterskoolvlak, met 'n opsie vir intensiewe onderwys vanaf die ouderdom van agt of nege jaar in laerskole.

Daar is een tersiêre instelling, die International University of Monaco (IUM) wat hom as Engelsmedium-universiteit op ekonomiese wetenskappe toespits.

Poswese en filatelie

[wysig | wysig bron]
Posseël ter waarde van 5 centimes met die portret van prins Charles III, uitgereik in 1885
Monaco – entre les Oliviers (Monaco – tussen die olyfbome) – 'n poskaart van die vroeë 20ste eeu

Monaco beskik nie oor sy eie posdiens nie. Volgens die Frans-Monegaskiese Vriendskapsverdrag, wat in 1640 in Péronne onderteken is, word alle posdienste op die staatsgebied van Monaco deur Frankryk verskaf. Die enigste onderbrekings was die tydperk van die Franse Rewolusie tussen 1793 en 1814 en die Sardiese protektoraat tussen 1815 en 1860. Die besonderhede van Monaco se poswese is op 9 November 1865 in die sogenaamde Buurskapskonvensie (Convention de voisinage) gereël. Dit is steeds van krag sodat in Monaco byvoorbeeld dieselfde postariewe van toepassing is soos in Frankryk. Daarnaas word ook die Franse poskodestelsel in Monaco gebruik. Die hele vorstedom het een enkele poskode: 98000.

Die Monegaskiese poswese is gevolglik tot die historiese gebruik van handstempels en die uitreiking van posseëls beperk. Hierdie tradisie het sy oorsprong in die eerste posstempel van 1704. Van hierdie vroeë periode dateer koeverte met handgeskrewe datums en handstempels wat in Monaco en die vesting Fort d'Hercule (tydens die Franse besetting tussen 1793 en 1814) gebruik is.

Tydens die Sardiese protektoraat is vir 'n kort tydperk tussen 1851 en 1860 Sardiese posseëls gebruik. Aangesien die Koninkryk Sardinië die graafskap Nice volgens die Verdrag van Turyn aan Frankryk afgestaan en ook sy protektoraat oor Monaco beëindig het, is vanaf daardie jaar ongeperforeerde Franse seëls gebruik wat van plaaslike stempels ("Monaco" of "Monte-Carlo") voorsien is.

Op 1 Julie 1885 het Monaco begin om sy eie posseëls met 'n portret van prins Charles III van Monaco uit te reik, veral om sy soewereiniteit asook onafhanklike vorstedom te beklemtoon. Die gebruik van hierdie seëls was verpligtend vir alle posstukke wat vanaf Monaco gestuur is. Hoe meer die versameling van posseëls 'n gewilde stokperdjie geword het, hoe meer het versamelaars daarin belang gestel om op nuwe posseëls in te teken. Om in hulle behoeftes te kan voorsien, het prins Louis II op 6 November 1937 die Office des Emissions de Timbre-Postes (O.E.T.P.) gestig, met Henry Gamerdinger en Hyacinthe Chiavassa as eerste direkteure.

Vanaf 1949, toe Rainier III die Monegaskiese troon bestyg het, word die finale besluit oor die onderwerpe, motiewe en kleure van Monegaskiese posseëls deur die vors geneem, waarby hy deur die direkteur van die O.E.T.P. geadviseer word. Die prins was self 'n geesdriftige filatelis. Sy versameling het later as basis vir die Monegaskiese Posseël- en muntmuseum gedien. Danksy Rainier III, wat posseëls as "ambassadeurs vir sy land" beskou het, het Monegaskiese seëls baie gewild by internasionale versamelaars geword. Op sy hoogtepunt in 1985 het die O.E.T.P. sowat 35 000 intekenaars gehad. Intussen het dié getal afgeneem tot sowat 28 000.

Die O.E.T.P. het in 1955 tot die Wêreldposunie en in 1993 tot PostEurop toegetree. Monegaskiese posseëls is steeds 'n belangrike bron van inkomste en het hul gewildheid aan die hoogs ontwikkelde druktegnieke te danke wat by hul vervaardiging ingespan word. Monaco is die enigste land wat hiervoor gebruik maak van staalgravure – dit wil sê dat alle seël-motiewe net soos banknote as tekening in 'n staalplaat gegraveer word voordat hulle gedruk word. Die drukbeeld van hoogstaande gehalte kan maklik met 'n vergrootglas bekyk word.[26]

Susterstede

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (en) "United-Nations data, country profile". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 April 2020. Besoek op 18 April 2020.
  2. (en) "Constitution of Monaco (art. 78): The territory of the Principality forms a single commune.". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2020. Besoek op 29 April 2020.
  3. (fr) "Constitution de la Principauté". Raad van die Regering. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2011. Besoek op 22 Julie 2011.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 4,4 (en) "Monaco". Central Intelligence Agency. Besoek op 2 September 2024.
  5. (fr) "Monaco en Chiffres" (PDF). Vorstedom Monaco. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 15 November 2009. Besoek op 15 November 2009.
  6. (fr) "Recensement de la Population 2016" (PDF). Monegaskiese Instituut vir Statistiek en Ekonomiese Studies (IMSEE). Februarie 2018. Besoek op 2 September 2024.
  7. (en) "GDP per capita (current US$) – Monaco". Wêreldbank. Besoek op 6 Januarie 2021.
  8. (en) "Filling Gaps in the Human Development Index" (PDF). United Nations ESCAP. Februarie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 5 Oktober 2011. Besoek op 5 Oktober 2011.
  9. (de) Frankfurt-live.com, 8 Junie 2020: Tourismus in Monaco nimmt wieder Fahrt auf. Besoek op 21 Augustus 2020
  10. (en) BBC.com: Monaco profile – Media. Besoek op 21 Augustus 2020
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 (en) P. Christiaan Klieger (29 November 2012). The Microstates of Europe: Designer Nations in a Post-Modern World. Lexington Books. pp. 165–. ISBN 978-0-7391-7427-2.
  12. (en) R. L. Rike (1987). Apex Omnium: Religion in the Res Gestae of Ammianus. University of California Press. pp. 24–. ISBN 978-0-520-05858-3.
  13. (fr) "Climatological information for Monaco" – Monaco website
  14. (de) Wolfgang Ismayr (red.): Die politischen Systeme Westeuropas. 4., aktualisierte und überarbeitete Auflage. Wiesbaden: VS Verlag für Sozialwissenschaften 2009, bl. 924
  15. Na die prinses word onder meer in die Afrikaanse, Nederlandse en Duitse taalgebied as Gracia verwys. In Frans en Engels het haar voornaam egter onveranderd Grace gebly.
  16. (de) GTAI Germany Trade and Invest, 24 Januarie 2014: Monaco erweitert seine Fläche. Besoek op 18 Junie 2014[dooie skakel]
  17. (en) U.S. Department of State: U.S. Relations With Monaco. Besoek op 21 Augustus 2020
  18. (en) Gouvernement Princier: Representation of the Republic of South Africa in the Principality of Monaco. Besoek op 21 Augustus 2020
  19. (en) South African Digest, 13 November 1964, bl. 11
  20. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Monaco – Ekonomie Geargiveer 11 Maart 2016 op Wayback Machine
  21. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake – Monaco: Ekonomie Geargiveer 1 Januarie 2016 op Wayback Machine
  22. (de) Duitse Departement van Buitelandse Sake: Monaco – Ekonomie/Wetenskap en tegnologie Geargiveer 11 Maart 2016 op Wayback Machine
  23. (en) David C. King: Cultures of the World – Monaco. Tweede uitgawe. Tarrytown, NY: Marshall Cavendish 2008, bl. 10
  24. (fr) Monaco-Matin, 24 Oktober 2018: Monaco à l'heure bavaroise avec l'Oktoberfest. Besoek op 21 Augustus 2020
  25. (en) Gouvernement Princier – A privileged educational system
  26. (de) Die ganze Welt der Philatelie. Lorch: Hermann E. Sieger 1995, bl. 35
  27. 27,0 27,1 (fr) "La politique de la ville". La Mairie. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 16 Mei 2016.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Algemeen

Politiek / Nuwe staatsverdrag met Frankryk / Demografie

  • (de) Der Fischer Weltalmanach 2007. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2006, bl. 343

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Algemene inligting

Argitektuur

Toerisme

Vorstehuis

Filatelie

Bootskou van Monaco | Monaco Yacht Show