Edoardo Villa
Edoardo Villa | |
---|---|
Geboortenaam | Edoardo Daniele Villa |
Gebore | Bergamo, Italië | 31 Mei 1915
Sterf | 1 Mei 2011 (op 95) Johannesburg, suid-Afrika |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Veld | Beeldhouer |
Opleiding | Andrea Fontini-kunsskool |
Werke | The Knot, Kaapstad Confrontation, Johannesburg Thrust, Universiteit van Pretoria |
Toekennings | UP Kanseliersmedalje vir sy bydrae tot beeldhouwerk. Toekennings by die Sao Paulo Biënnale van 1957 en 1959. |
Edoardo Daniele Villa (1915–2011) was 'n noemenswaardige Suid-Afrikaanse beeldhouer van Italiaanse afkoms wat met staal en brons gewerk het.[1]
Lewensverloop
[wysig | wysig bron]Villa is in Bergamo, Italië gebore en het aan die Andrea Fontini-kunsskool studeer. Tydens sy studies in 1939, met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, is hy opgeroep vir twee jaar diens in die Italiaanse weermag. In 1940 is hy na Noord-Afrika uitgeplaas, waar hy gewond was, en in Egipte deur die Engelse gevange geneem is. Tussen 1941 en 1942 is hy na Suid-Afrika gestuur waar hy die volgende vier jaar by die Zonderwater krygsgevangenekamp aangehou is. Zonderwater is in Februarie 1941 geopen en teen die einde van 1942 was 63 000 gevangenes daar aangehou onder die toesig van kolonel H.F. Prinsloo, wie se hoof later in brons deur villa gegiet is vir die militêre museum. Na sy vrylating besluit Villa om in Suid-Afrika aan te bly waar hy as beeldhouer begin werk het.
Villa het by sy huis in Johannesburg gewoon en gewerk. Hy was bevriend met die kunstenaar en kunsversamelaar Vittorino Meneghelli,[2] die skrywer Jillian Becker en die argitek Monty Sack. Edoardo Villa sterf in sy hospitaalbed in Johannesburg op 1 Mei 2011 op die ouderdom van 95.
Loopbaan
[wysig | wysig bron]Villa het aanvanklik met konvensionele borsbeelde en figure begin werk, en later met abstrakte beelde. Sy werk sluit abstrakte uitlegte van die menslike kondisie in, maar behou ook figuurlike konsepte. Sy werk het 'n sterk kruiskulturele sintese wat Italië en Afrika insluit. Sy werk is ook duidelik beȉnvloed deur die kubisme van Picasso (wat Afrika-kuns in Parys by die Trocadero ontdek het).[3]
Villa het 'n onderhoud gesê: "Nadat ek 'n gevangene van die oorlog was, het ek besluit om in Suid-Afrika te bly, en my loopbaan te begin, as gevolg van die beskikbaarheid van geleenthede vir die jeug, die 'oop ruimte' in teenstelling met die 'geslote' lewe in Europa. Ek voel dat alles in Europa reeds gedoen, bevraagteken en uitgeput is. Ek voel dat ek hier, in Afrika, die geleentheid het om te verken... As daar iets is wat my fundamentele besorgdheid in kuns kan opsom, is dit die van mens en die individu – die menslike kondisie... Museums is wonderlik, maar menslike deelname, fisieke nabyheid en tasbare betrokkenheid is meer belangrik."[3]
Styl en tegniek
[wysig | wysig bron]Villa se beeldhouwerk het verder ontwikkel in die 1950's, met die gebruik van staal en brons. Op daardie stadium het hy ook onderrig aangebied by die Polly Kunssentrum in Johannesburg. Die Polly Kunssentrum was gestig as 'n volwassene onderwysinrigting en is in 1952 omskep in 'n kuns- en uitstallingsentrum. Tot sy sluiting in 1960 was dit die enigste plek, afgesien van 'n paar privaatgalerye, waar swart kunstenaars in Johannesburg hul kuns kon nastreef en hul werke kon uitstal.
In 1961, saam met Cecil Skotnes, Cecily Sash, Giuseppe Cattaneo en Sydney Kumalo, was Villa deel van die kunstenaarsgroep "Amadlozi" (Bantoe vir "gees van die voorvaders)" vir die bewuste bewilliging van Afrika beeldhoutradisies.
Villa se werk sluit groter as lewensgroot staal installasies in, soos die Leunende Figuur [4] in Pieter Roospark, Johannesburg. Hierdie beeld is gemaak vir kinders om op te speel. Dit was deur die Parktown en Westcliffe Erfenistrust gekies as 'n geskenk vir die Stad van Johannesburg en Anglo American het die fondse daarvoor beskikbaar gestel. Die beeld was deur die onderburgemeester van Johannesburg, raadslid C.E. Fabel, op 9 Augustus 1984 onthul.
Edoardo Villa het Suid-Afrika vyf keer by die Venesiese Biënnale verteenwoordig en hy het toekennings by die Sao Paulo Biënnale van 1957 en 1959 ontvang.[4] Hy het by meer as 'n honderd uitstallings in in Italië, Europa, Engeland, Israel, Suid-Amerika, Afrika en die Verenigde State van Amerika uitgestal.
In 1994 en 1995 skenk Villa 140 klein en 10 groot kunswerke aan die Universiteit van Pretoria. Op 31 Mei 1995, op Villa se 80ste verjaarsdag, open die Edoardo Villa-museum by die Universiteit van Pretoria se Hatfieldkampus.[5]
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- Fassler, John: Edoardo Villa. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 10, nr. 3, Maart 1961
- Watter, Lola: The symbolic sculpture of Edoardo Villa 1961-1966. South African icon maker. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 16, nr. 2, Desember 1966
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "Johans Borman Fine Art: Edoardo Villa (1915–2011)" (in Engels). www.johansborman.co.za. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Mei 2020. Besoek op 11 Maart 2017.
- ↑ "Vittorino Meneghelli Dies At 94". Jacaranda Tribal Art Blog. Besoek op 11 Maart 2017.
- ↑ 3,0 3,1 "Stephan Welz & Company presents a rare work from Edoardo Villa" (in Engels). Stephan Welz & Company. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2016. Besoek op 11 Maart 2017.
- ↑ 4,0 4,1 "Artvalue: Edoardo Villa". Artvalue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Julie 2017. Besoek op 11 Maart 2017.
- ↑ "Museums & Collections – Edoardo Villa Collection" (in Engels). University of Pretoria. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 11 Maart 2017.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |